Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 03 Februarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutel van twee radioamateurs onlangs stil geraak het,

Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die afgestorwene.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

WAT HET VAN AL DIE JONG RADIOAMATEURS GEWORD?

EERSTE VERGADERING VAN DIE SARL SE REGULATORIESE WERKGROEP VIR KOMMENTAAR OOR REGULATORIESE SAKE

SARL-TOEKENNINGS EN HOE OM TE NOMINEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

WAT HET VAN AL DIE JONG RADIOAMATEURS GEWORD?

Die SARL beplan 'n spesiale aktiwiteit tussen 09:00 en 10:00 op Saterdag 23 Februarie om die 2013 Jeugnaelloop te vier wat van 10:00 tot 12:00 SAT plaasvind, maar om dit te doen word u stemme benodig. Julle jong radioamateurs moet ons vertel waarom julle radioamateurs geword het en hoe julle amateurradio geniet. Vertel ons wat ‘koel’ is omtrent amateurradio.

Die SARL sal van 13 tot 16 Februarie klankopnames maak. Stuur u besonderhede en telefoonnommer aan youth@sarl.org.za en laat ons weet watter van die aande tussen 20:00 en 21:00 u vir 'n opname beskikbaar sal wees. Klubvoorsitters moenie toelaat dat u klub in die koue gelaat sal word nie. Moedig u jong lede aan om hulle passie met ons te deel.

EERSTE VERGADERING VAN DIE SARL SE REGULATORIESE WERKGROEP VIR KOMMENTAAR OOR REGULATORIESE SAKE

Die SARL se Regulatoriese Werkgroep (RWG) het op Donderdag verlede week sy eerste vergadering gehou om die SARL se kommentaar op konsepregulasies wat op amateurradio betrekking het, en in twee Staatskoerante gepubliseer is, te bespreek. Die RWG het die tweede konsep van die Frekwensie-migrasieregulasies bespreek en is tans besig met die formulering van die SARL se kommentaar aan OKOSA. Die betrokke frekwensies is in die SHF-gebied wat gebruik word vir amateursatelliete, amateur WI-Fi-toepassings en herhalerkoppeling.

Die werkgroep het die konsep van die tabel van frekwensietoekennings noukeurig nagegaan en sal OKOSA versoek om 'n uitbreiding van die 160 m band te oorweeg.

Dit is ook nog te vroeg om 'n toekenning rondom 5 MHz te versoek aangesien dit op die agenda van WRC15 sal wees. Die SARL sal egter voortgaan met sy versoek vir die toekenning van twee kanale in die omgewing van 5 MHz vir eksperimentele en toetsdoeleindes met die doel om met die resultate van eksperimente en toetse steun te verleen aan die item op die agenda van WRC15. In 'n onlangse e-pos van OKOSA het hulle aangedui dat hulle tans kyk na die proses vir goedkeuring van lisensies. Bly ingeskakel op SARLNUUS en www.sarl.org.za vir besonderhede. Die werkgroep het 'n aantal kleiner anomalieë raakgesien waarop die aandag gevestig sal word in die kommentaar aan OKOSA.

Sodra die dokumente voltooi is, sal dit op www.sarl.org.za gepubliseer word, kies Amateur Radio Today en volg die koppelings tot by die SRWG-bladsy.

Die RWG het ook steurings bespreek wat deur radioamateurs in die topgedeelte van die 10 m band veroorsaak word. Die frekwensies tussen 29,7 en 30 MHz word met 'n aantal ander gebruikers gedeel en is vir radioamateurs beskikbaar vir noodkommunikasieoefeninge en gebruik gedurende werklike rampe. Moet asb. nie hierdie gedeelte vir algemene kommunikasie gebruik nie aangesien die ander gebruikers beperk is tot die gebruik van baie lae krag. Radioamateurs mag nie steurings veroorsaak nie; toon werklike amateurgees.

GAREC 2013 VAN 25 TOT 28 JUNIE IN ZURICH GEHOU

IARU Streek 1 het aangekondig dat vanjaar se ‘Global Amateur Radio Emergency Conference’ of GAREC 2013, van 25 tot 28 Junie in Zürich, Switserland, gehou sal word. Ingesluit in die konseponderwerpe wat bespreek gaan word, is die toepaslikheid van amateurradio-noodkommunikasie in die ‘1ste węreld’ en ook die HAMNET hoëspoed datanetwerk. Daar sal ook aanbiedings wees uit die drie IARU-streke en bydraes deur groepe met onlangse ondervindings met kommunikasie tydens hulpverlening in rampe.

Algemene inligting aangaande GAREC 2013, insluitende inligting oor die vergaderplek, registrasiefooie, tentatiewe agenda en registrasievorms is beskikbaar by www.garec2013.ch. Daardie webtuiste sal dikwels opgedateer word om almal op hoogte te hou met die jongste nuus en programveranderings. U kan ook e-pos stuur aan info.garec2013.ch vir opdaterings. Daar moet kennis van geneem word dat die tyd vir hierdie jaar se konferensie gekies is om Europa se grootste amateuruitstalling, HAM RADIO in Friedrichshafen, Duitsland, vooraf te gaan. Dit is gedoen sodat mense beide funksies kan bywoon.

SARL-TOEKENNINGS EN HOE OM TE NOMINEER

Die sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-toekennings is 15 Februarie 2013. Besonderhede oor die verskeie toekennings is gepubliseer in die SARL-nuusbrief wat in Januarie vanjaar per e-pos aan alle klubs gestuur is.

Hoe om te nomineer?

Die Raad van die SARL en die SARL se toekenningsbestuurder sal op 22 en 23 Februarie tydens die SARL se jaarlikse strategie-indaba ontmoet. Dit is wanneer nominasies ge-evalueer gaan word. Wanneer 'n nominasie ingedien word, verskaf asb. soveel inligting as moontlik. Onthou dat die persone wat die nominasies oorweeg, mag die genomineerdes nie ken nie en onbewus wees wat die persone bereik het. Dit is die plig van die nomineerder of klub om in hulle voorleggings te bewys dat die genomineerdes die toekennings werd is. Gee liewer te veel as te min inligting.

Stuur nominasies so gou moontlik, maar nie later as 15 Februarie nie, in na secretary@sarl.org.za. Deur nominasie vroeg in te stuur bied dit die sekretaris die geleentheid om meer inligting te versoek indien dit nodig mag wees. Die toekennings sal tydens die jaarlikse toekenningsdinee op Saterdag 27 April 2013 in Gauteng oorhandig word.

NOG 'N SUID AFRIKANER TOT FOC VERKIES

Slegs die derde Suid Afrikaanse radioamateur is as lid van die "First Class CW Operator Club" verkies.

Die eer kom Raoul Coetzee, ZS1REC, toe wat verlede week tot dié elite klub vir Morsekode-operateurs verwelkom is. Dié internasionale klub is reeds in 1938 gestig en het slegs sowat 500 lede węreldwyd. Slegs 2 ander Suid Afrikaanse operateurs is lede van die klub. Hulle is Vide Le Grange, ZS1EL, en Al Smith, ZS1AAX.

Om lid van die klub te word is beslis 'n besonderse prestasie en nie 'n maklike taak nie. Baie geluk aan Raoul.

Vir meer besonderhede oor hierdie Morsekodeklub, en hoe om lid te word, besoek gerus www.g4foc.org/.


Die SARL verwelkom graag die volgende amateurs as nuwe lede en vertrou dat hulle 'n lang en gelukkige verbintenis met die SARL sal geniet:
Harold Krause, ZS6CAR;
Marthinus Venter, ZS6TIN;
Christo Pietersen, ZU6CAT;
Rayne Meyer, ZS1RM.

SARL-lidmaatskap staan tans op 1 677.

KOMPETISIENUUS

Die Februarie-been van die 2013 SARL se Nasionale Velddag vind volgende naweek plaas en begin om 10:00 UTC op Saterdag 9 Februarie en eindig 24 uur later. Stasies mag GG, ESB en digitale modusse op 160 - 10 meter, (die WARC bande uitgesluit) gebruik en die getal van senders, die klas van deelname en die provinsiale afkorting word uitgeruil.

Daar is ses klasse van deelname om van te kies vir die naweek. Dit is 'n ideale naweek vir 'n klubuitstappie en om met 'n draagbare kragbron te werk.

Die reëls is verander vir 2013, lees die nuwe reëls in die 2013 SARL-kompetisiehandboek.

KLUBNUUS
Die Bloemfontein ARK berei voor vir RAE-klasse vir die RAE in Mei. Persone wat belangstel om die klasse by te woon, kan Warren, ZS4W, kontak per e-pos aan zs4whiskey@mweb.co.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak nog steeds laag tot baie laag gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 44.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
03 Februarie – Vandag - AWA se GG-aktiwiteit eindig om 10:00 UTC.
9-10 Februarie - SARL se Nasionale Velddae.
15 Februarie – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir die SARL-toekennings aan secretary@sarl.org.za.
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale aanbieding beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geďnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE,

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003